Die SA rekordpryse het gespat op die derde jaarlikse 3G-wildveiling by Jan Kempdorp in die Noord-Kaap, waar onder meer ‘n gewone springbokram, met geen kleurvariasie nie maar besonderse horings en bouvorm, vir ‘n asembenemende R1,2 miljoen van die hand gesit is.
Volgens Landbouweekblad, is Basjan ‘n drie-jaar-oue Kalahari-ram van Johan Viljoen, skaapboer en springbok-teler van Richmond in die Karoo.
Dié spog met ‘n horinglengte van 18 en twee-agstes duim.
Drie koper-springbok-ramme van John en Mark Lake van Patterson in die Oos-Kaap het die veiling-omset in ‘n ommesientjie met nog amper R12 miljoen laat klim.
Twee van hulle is vir R4 miljoen elk opgeveil, en die bod op die derde, jonger ram is op R3,8 miljoen toegeslaan.
Johan Lamprecht, ‘n wildteler van Postmasburg, het ook ‘n paar miljoen rand in die sak gesteek. Sy saalrug-witblesbokram is teen R5,5 miljoen van die hand gesit, en ‘n ooi teen R2,6 miljoen.