Regering bevestig dood van Suid-Afrikaners in Kaboel
01 Feb 2016 | Admin Author
Warning:
This article may contain graphic and/or adult content unsuitable for minors and sensitive readers.
Die Departement van Internasionale Betrekkinge het bevestig dat agt Suid-Afrikaners onder die 12 mense is wat Dinsdag oggend in 'n selfmoord-bomaanval in die Afgaanse hoofstad, Kaboel, dood is.
'n Departementswoordvoerder, Nelson Kgwete, sê hulle is deur Suid-Afrika se diplomatieke sending in Islamabad, Pakistan, van die dood van die Suid-Afrikaanse burgers in kennis gestel.
Dié diplomatieke sending is ook in Afghanistan geakkrediteer.
Kwete sê hulle is besig om die naasbestaandes van die oorledenes te kontak.
Die mans het vir 'n privaat lugvaart-maatskappy wat tans met operasies in Afghanistan besig is, gewerk.
'n Woordvoerder van 'n Islamitiese groep, Hizb-i-Islami, het verantwoordelikheid vir die ontploffing aanvaar, en sê dit is uit weerwraak teen 'n Amerikaanse video op Youtube waarin die Profeet Mohammed beledig word.
Die Taliban sê luidens berigte uit die Midde-Ooste dat dié groep niks met die aanval te doen gehad het nie, maar bygevoeg dat hy aanvalle teen buitelanders in Afghanistan gaan verskerp, oor die gewraakte rolprent..