AfriForum het bekend gemaak dat hy die regskoste gaan dra van vier boere wat op Parys in die Vrystaat aangekla is.
Boeta van der Westuizen, Johan Cilliers senior, sy seun Johan junior, en Anton Loggerenberg, word daarvan beskuldig dat hulle verlede week twee mans vermoor het, wat na bewering Van der Westhuizen se 72-jarige pa, Loedie, aangerand het.
AfriForum se adjunk uitvoerende hoof, Ernst Roets, sê in 'n verklaring dit was 'n ongelukkige voorval en daar moet in die hof daaroor beslis word.
Roets voeg egter by dat die waarheid nie so eenvoudig is nie en dat boere en hulle families regoor die land geteister word deur geweld en moord.
Hy voeg by dat baie wrede plaasmoorde in die omgewing van Parys gepleeg is, en die regering weier steeds om plaasaanvalle 'n prioriteitsmisdaad te maak, en dat slordige ondersoekwerk daarna gedoen word.
Roets sê dit het gelei tot 'n algehele wantroue in die regering en polisie wat plaasaanvalle betref.
Foto: OFM